Sy hardloop.
Trane vloei warm teen haar wange af. Gruis knars grof onder haar voete. Dan hoor sy dit. ’n Klank so vreemd dat dit haar laat stilstaan om te luister. Daar’s dit weer.
Haar voete pyn en haar lyf ruk soos ’n dier wat gif ingekry het. Die geluid bly hang in die lug, maar sy kan niks in die bitternag om haar sien nie. Sy sak langs ’n boom neer. Wat ookal die geluid maak kan haar maar kom vrekmaak. Niks maak meer saak nie. Dan besef sy - die klank - dit kom uit haar keel.
Haar lewe lê in skerwe in daai huis. Sy het in die hardloop probeer wegvlug daarvan. Blerrie saamgehol. Klou soos kak aan ’n wolkombers.
Arms styf om haar bene gevou, dryf sy weg in ’n see van nie weet nie. Haar ooglede is swaar, die hortende klank in haar keel is nou uiteindelik stil. Hoe sal sy ooit weer normaal funksioneer. Haar benewelde brein wil nie meer nie. Kan nie meer nie.