Wanneer jou baba uiteindelik daar is, voel jy anders. Dit voel amper asof jy saam met hierdie nuwe dingetjie in jou lewe 'n porsie wysheid geërf het. Vir die eerste keer besef jy dat hierdie klein, hulpelose dingetjie in jou arms nie net 'n verantwoordelikheid is nie, maar 'n eindelose bron van vreugde. En as jy mans genoeg is om jouself die tyd te gun om saam met jou kind op hierdie besondere reis te gaan, mag jy dalk net jouself ontdek in die proses.
Ek het so baie geleer op hierdie ouerskapsreistog, en Danielle het my gehelp om 'n beter en dieper verhouding met God te smee.
Ek het geleer om na mense se advies te luister, maar nie net dit as die wet te neem nie, maar te luister na God se stem en ware Wysheid te leer, vir my eie beswil en my kind s'n.
Liefde is nommer een! In alles wat 'n ouer sê of doen ... laat dit in liefde geskied. Daar kan absoluut nooit genoeg liefde wees nie. Selfs al is jou kind al 13 jaar oud en jy lê nog elke aand 'n rukkie by haar totdat sy aan die slaap is, kan ek net sê: wel gedaan! Sy sal jou altyd liefhê en respekteer vir die eindelose liefde wat jy aan haar betoon het.
Onthou dat jou kind 'n baie klein rukkie lank by jou in die huis is. Die grootste invloed wat jy op jou kind se lewe uitoefen, vind tussen die ouderdom van 0 en 13 jaar plaas. Daardie jare vlieg verby! Sorg dat jy die beste daarvan maak!
Ek glo dat ware wysheid van God in elke hoofstuk van hierdie boek opgesluit is. Ons maak almal foute, maar ons sal veel minder foute begaan met God as ons Gids en Voorligter.